Liturgie
(van die Grieks leitourgia) dui persoonlik,
huislik en gemeentelik (kerklik) op wat mense
doen wanneer hulle God ontmoet, na Hom luister
en Hom aanbid, godsdiens beoefen en Hom
verheerlik. Die begrip erediens word dikwels
staties geneem, asof die "erediens" ʼn program is
wat begin en afgesluit word. Die dinamiese aspek
van die samekoms is om in Gees en waarheid te
ontmoet, te gehoorsaam en met oorgawe te luister
en te aanbid. Die erediens gaan in huise en in
die binnekamer van die gelowige voort, as
uitvloeisel van die samekoms van die gemeente as
volk van God.Die gemeente tree op ʼn bepaalde
manier toe, kom saam of konstitueer om God te
ontmoet (Heb 10:23; NGB, artt.27-32).
Daarna
verootmoedig hulle hulle en bely skuld,ontvang
vergewing en vryspraak, bid om die verligting
van die Gees (epiklese) om die Woorddiens van
God te hoor, en daarna antwoord hulle op die
ontmoeting in dankgebed en in voorbidding vir
alle owerhede, asook smeking vir die nood van
almal.
Die Skrif leer dat die samekoms van God met sy
gemeente, en van die gemeente met God en met
mekaar,ʼn ontmoeting moet wees met liturgiese
handelinge wat daartoe dien dat almal God deur
sy Woord en Gees (Joh. 4:23) ontmoet, aanbid,
verheerlik, eer en dien. Die liturgiese gang vir
die erediens bevat die volgende hoofmomente: Die
Ontmoetingsdiens (Introïtus), die
Verootmoedigings- en Versoeningsdiens, die
Woorddiens en die Antwoorddiens (Responsoria).
Die Ontmoetingsdiens bestaan uit die volgende
vier elemente: votum, groetseën, lofliedere en
geloofsbelydenis.
In die Ontmoetingsdiens is die funksie van die
votum dat die gemeente openlik en nederig,
plegtig verklaar dat die erediens ʼn saamkoms van
God met sy volk, en daarom van sy volk met Hom
en met mekaar is. Hierdeur bely die gemeente
hulle afhanklikheid van en gerigtheid op God.Die
groet- en wegstuurseën word in opdrag van God en
namens God self op die gemeente gelê; soos die
woorde en die liggaamstaal met die hande getuig.
Die loflied as liturgiese handeling van die
gemeente is deel van die Ontmoetingsdiens en het
die spesifieke doel om op God se groetseën te
antwoord.Die geloofsbelydenis vorm deel van die
Introïtus waarmee die gemeente van gelowiges
hulleself as "eenheid in die ware geloof" voor
God stel, mekaar versterk en teenoor die wêreld
hulleself afsonder. Hiermee verklaar die
gemeente sy identiteit as liggaam in een ware
geloof (Joh 4:23; HK, Sondag 21; NGB,
artt.27-29).
Die Verootmoedigings- en Versoeningsdiens omvat
die nederige toetrede van die gemeente in die
heilige teenwoordigheid van God. Dit sluit in
verootmoediging deur die aanhoor van God se eise,
die skuldbelydenis van die gemeente, die
vryspraak van God en die afkondiging van die Wet
as die reël van dankbaarheid vir die versoende
volk van God.
Die Woorddiens omvat die gebed om die verligting
van die Gees, die Selfstandige Skriflesing, die
Skriflesing waaruit die prediking kom, die
prediking en die sakramente.Weens die
verduisterde verstand en hart van die mens en
weens die Goddelike aard van die Skrif moet
gebid word dat die Woorddiens waarlik opening,
ontsluiting en toepassing van die Woord sal wees,
en dat die gemeente die Woorddiens as Woord van
God sal aanneem en dat die Woord vrug sal
voortbring. Die Woord van God kom met krag omdat
dit bewerk wat dit verkondig, naamlik redding
van mense en bevryding van sonde en doodsmagte,
tot eer, lof, dank en diens van God.
Dit is
omdat die skrywers van hierdie heilige Skrifte
so geïnspireer is deur die Gees dat hulle die
woorde van God skryf. Wat dus tydens die
Skriflesing gehoor word, is die Woord van
God.Die prediking het ʼn dienende funksie van
oopmaak en toepas ten opsigte van die
Skriflesing waaruit die prediking voortvloei en
behoort so nou as moontlik daaraan verbind te
word. God is aan die woord deurdat die prediking
die Woord as opdrag het. Die lewende God se
lewende Woord word verkondig (uitlê en toepas)
en dwing tot ʼn lewende, dinamiese, appellerende
oordra van die prediking. Die sakramente van die
doop en die nagmaal is tekens en seëls van Jesus
Christus se offer aan die kruis en die vreugde
daarvan om in ʼn versoende verhouding met God en
mekaar te lewe.
Alhoewel die gemeente deurlopend antwoord op God
se spreke, kulmineer die gemeente se respons in
die Antwoorddiens. Daarom is die Antwoorddiens
die antwoord van die gemeente op al die
voorafgaande liturgiese hoofmomente, naamlik die
Ontmoetingsdiens, die Verootmoedigings- en
Versoeningsdiens en die Woorddiens. God roep
veral deur die Woorddiens gebed, aanbidding,
dank en verootmoedigingin die hart van die
gemeente op.Die antwoord van die gemeente op die
ontmoeting met God geskied deur gebed,
Christelike handreiking en sang. Die sang van
die gemeente is ʼn belangrike onderdeel van die
Antwoorddiens, maar as respons van die gemeente
kom dit as liturgiese handeling ook in die ander
hoofmomente van die liturgiese gang voor.
Sang
is diensbaar aan die woorde waarmee met God in
die liturgie gekommunikeer word omdat die
gemeente daarin as geheel aan die woord kom. Die
lied dien as’t ware as Formulier om in eenheid
te aanbid, smeek, bely, prys, verheerlik en te
verootmoedig. Waar sekere Psalms en
Skrifberymings hulle daartoe leen, kan van
wisselsang gebruik gemaak word. Die liefdegawe
of Christelike handreiking vorm deel van die
antwoord van dankbaarheid op die Woorddiens. Met
hierdie daad betuig die gemeente sy dank aan God
vir die meedeling van sy genadegawes op tasbare
wyse. Psalms het in die geskiedenis en moet
vandag ook nog dien as gebede, belydenisse,
lofprysings en voorbidding en kan in die plek
kom van sekere geprate gebede.
Die "amen" aan die einde van handelinge soos die
prediking, gebede en geloofsbelydenis is die
gemeente se instemmende belydenis en bevestiging.
Die seën van die Here aan die einde van die
erediens het nie die betekenis om die slot van
die samekoms aan te dui nie, maar wel die
wegstuur van die gemeente om onder die seënende
hand van die Here tot die aksie van diens uit te
gaan.
Luister na Preke: Kliek op skakel hieronder
|