Teologiese Skool
KARAKTER VAN DIE TEOLOGIESE SKOOL
Sedert sy oprigting in 1869 is die Teologiese Skool die plek waar die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika Gereformeerde predikante oplei. Dit is dus ’n inrigting van die kerke, vir die kerke.
Die grondslag van die Teologiese Skool is die Woord van God en die Drie Formuliere van Eenheid, naamlik die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls.
Die missie van die Teologiese Skool is om vanuit hierdie grondslag studente wat deur die kerke gestuur is na die TSP in hulle totale menswees te onderrig om as goed-toegeruste herders en leraars hulle roeping in die kerke te vervul. Hierdie onderrig sluit opleiding in teologiese wetenskap en navorsing van God se openbaringswaarheid in, sodat kennis, insigte en beginsels na die eise vandie tyd en volgens die behoeftes van die kerk en samelewing geformuleer en toepaslik gemaak kan word. Die opleiding het ook ten doel om die Christelike gemeenskap in besonder en ook die breë samelewing in Suid-Afrika deur gereformeerde beginsels, reformatoriese denke en Calvinistiese riglyne te dien.
HISTORIESE OORSIG
In Mei 1869 het die vierde Algemene Sinode van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika in ‘n klein kerkgeboutjie in Potchefstroom ‘n besluit geneem om met die hulp van die Here ‘n Teologiese Skool op te rig. Hierdie “ou kerkie” staan langs die huidige kerkgebou van die Gereformeerde Kerk Potchefstroom.
Dit was 10 jaar na die stigting van die eerste Gereformeerde Kerk te Rustenburg in 1859. Slegs 14 kerke met vier predikante het tydens hierdie Sinode die besluit geneem. Dit was ‘n besluit wat in geloof geneem was. Hulle het geen hoop op finansiële steun van die owerhede gehad nie, die kerke self was min en geen infrastruktuur het bestaan nie. Aan die ander kant was hulle daarvan oortuig dat die kerke hierdie verantwoordelikheid gehad het om onafhanklik van die owerheid self vir die opleiding van predikante te sorg.
Historici is dit eens dat die jaar 1869 as die geboortejaar van sowel die Teologiese Skool as die universiteit (nou die Potchefstroomkampus van die NWU) beskou moet word. Uit die Teologiese Skool het die Universiteit mettertyd tot selfstandigheid gegroei en na al die jare bestaan albei inrigtings steeds selfstandig naas mekaar. ‘n Ooreenkoms tussen die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika aan wie die Teologiese Skool behoort en die Raad van die NWU bind die twee inrigtings op ‘n besondere wyse aan mekaar.
Die beginjare
Vanaf die stigting van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika op 11 Februarie 1859 was dit duidelik dat voorsiening gemaak sou moes word vir die behoefte aan predikante. Ds D Postma het in sy voorgestelde kerkorde, wat hy reeds voor die stigting van die kerk te Rustenburg ontwerp en gereed gemaak het, ‘n bepaling gehad dat aan die saak van opleiding van predikante aandag gegee moet word. Hy het gesorg dat hierdie saak op die agenda van die eerste kerklike vergaderinge van 1862 kom.
Die behoefte aan die oprigting van ‘n teologiese skool het deur die jare gegroei en die kerke het die gedagte al sterker begin ondersteun, totdat uiteindelik in 1869 die moedige besluit in geloof geneem is dat ‘n teologiese skool in Burgersdorp opgerig sal word. Die Teologiese Skool is uiteindelik oor die naweek van 26-29 November 1869 te Burgersdorp feestelik geopen.
Die Teologiese Skool in Bugersdorp: 1869 – 1905
Die kerke en die Kuratore van die jong skool het ‘n hoë premie op die wetenskaplikheid van die onderrig geplaas en byvoorbeeld besluit dat die teologiese kursus met dié van die Teologiese Skool van die Christelike Afgeskeie Gereformeerde Kerk in Nederland moet ooreenstem.
Ds Postma en ds Jan Lion-Cachet het in die beginjare, benewens hulle bedieningswerk in die gemeente van Burgersdorp, ook die opleiding van die studente behartig.
Die behoefte aan ‘n vooropleiding met die oog op teologiese studies en die ideaal aan ‘n voorbereidende inrigting het gelei tot die daarstelling van ‘n eie literariese departement.
Die Tweede Vryheidsoorlog (1899-1902) het die kerklike lewe sowel as die Teologiese Skool erg ontwrig. Die studente uit Transvaal en die Vrystaat is opgeroep na die kommando’s en die skoolwas gedurende die oorlog vir lang tydperke gesluit. Die eerste Sinode na die oorlog het in 1904 byeengekom en belangrike besluite oor die toekoms van die Skool sou geneem moes word.
Gedurende die oorlogsjare het JD du Toit en Ferdinand Postma aan die Vrije Universiteit in Amsterdam gaan studeer. Hulle was besiel met nuwe moed, en oortuig daarvan dat die Skool na ‘n ander plek met ‘n ander milieu verskuif moet word. Met die aanbreek van die Sinode van 1904 was die jong dr JD du Toit pas predikant van Potchefstroom en gereed om voorstelle oor die Skool se toekoms te maak.
Die Teologiese Skool te Potchefstroom
Die tydperk 1905 – 1919
Op die Sinode te Middelburg-Kaap in April 1904 is die verrassende besluit op voorstel van dr JD du Toit geneem om die Teologiese Skool na Potchefstroom te verskuif. Ander plekke soos Pretoria, Middelburg-Kaap, en veral Steynsburg is oorweeg, maar dr Du Toit, met medewerking van sy swaer ds P Postma van Pretoria, het toe al reeds met die Transvaalse gemeentes en met die stadsraad van Potchefstroom onderhandel, en sy voorstel het ‘n aanbieding van £3010 kontant en genoeg grond vir die gebouekompleks ingehou sodat die voorstel met dank aanvaar is. Die Teologiese Skool het in Februarie 1905 in Potchefstroom geopen waar daar toe reeds ‘n losieshuis en skoolgebou opgerig was.
Ferdinand Postma wat hoof was van die Literariese Departement, het sy doseerwerk vir ongeveer twee jaar (1912-1914) onderbreek om sy doktorsgraad by die Vrije Universiteit te voltooi, en in 1914 sy werksaamhede hervat. JD du Toit het in 1911 vir Lion-Cachet as professor in die teologie opgevolg, en in 1914 is dr S0 Los van Nederland as tweede professor in die teologie beroep, sodat daar in 1914 drie doktore aan die Teologiese Skool met sy Literariese Departement werksaam was. Dit het inderdaad ‘n nuwe fase ingelei. Die wetenskaplikheid sou voortaan des te beter gedien kon word.
As gevolg van die gewetensklousule van die Universiteitswet van 1916, is die Literariese Departement in 1919 van die Teologiese Skool en van sy kerklike verbintenis losgemaak, om selfstandig as die Potchefstroomse Universiteitskollege te bestaan, wetlik sonder die Christelike karakter. Die ideaal van JD du Toit en F Postma van ‘n vrye universiteit op Christelike grondslag vir Suid-Afrika op die voetspoor van die Vrije Universiteit van Amsterdam, kon nie so gou bereik word nie. Die Kuratore het egter saam met die Raad van die Kollege gestry vir ‘n volwaardige Christelike Universiteit.
Die tydperk 1919 – 1951
In 1921 is die inrigting deur die staat erken as ‘n konstituerende kollege van die Universiteit van Suid-Afrika en daarby geïnkorporeer. In 1933 het die staat wetlike erkenning aan die Christelike karakter van die PUK gegee, en eers in 1950 is die universiteit as ‘n volwaardige en outonome universiteit, naamlik as die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys wetlik erken.
Tussen die Teologiese Skool en die PU vir CHO as twee selfstandige inrigtings het daar ‘n unieke band en verhouding bestaan. Reeds in 1920 het die Raad van die PUK en die Kuratorium besluit op wedersydse verteenwoordiging op die Raad van die PUK en die Senaat van die Teologiese Skool.
ln 1945 is daar ‘n kontraktuele ooreenkoms tussen die Kuratorium van die Teologiese Skool en die Universiteit gesluit, wat sedertdien volgens die eis van omstandighede dikwels gewysig is.
Vanaf 1922 was daar aan die PUK ‘n Departement Teologie, en sedert 1930 bestaan daar ‘n Fakulteit Teologie wat die teologie as wetenskap beoefen.
Die tydperk 1951 – 1994
Die tydperk vanaf 1951-1994 kan as ‘n tyd van groei en konsolidasie bestempel word. Die Teologiese Skool en die Fakulteit Teologie het gegroei, ‘n volwaardige plek in sowel nasionale as internasionale konteks verkry, professore het vermeerder en ‘n eie gereformeerde teologie is uitgebou.
In 1969 het die PU vir CHO en die Teologiese Skool as susterinrigtings hul eeufees gevier, en in 1994 is die 125ste bestaansjaar feestelik herdenk. Die jaar 1994 het weereens ‘n bepaalde fase afgesluit nadat die Sinode van 1994 belangrike besluite oor die toekoms van teologiese opleiding geneem het.
Die tydperk 1994 tot tans
In 1994 het die Nasionale Sinodes van Potchefstroom, Middellande en Soutpansberg ooreengekom dat die teologiese opleiding by die skole te Potchefstroom, Hammanskraal en by die Heidelbergse Teologiese Skool in Vendaland tot ‘n eenheid moet kom in een teologiese skool te Potchefstroom. Sedert 1995 vind die opleiding aan die Teologiese Skool te Potchefstroom plaas, en is die samestelling van die Kuratorium so gewysig dat al die kerke wat belang het by die opleiding daarin, verteenwoordig word.
In 2004 het die regering besluit dat die PU vir CHO en die Universiteit van Noordwes in Mafikeng moet saamsmelt. Die nuwe instelling is die Noordwes-Universiteit met drie kampusse: Potchefstroom, Mafikeng en Vaaldriehoek. Die GKSA het toe ‘n nuwe ooreenkoms met die NWU gesluit wat tydens die Sinode van 2006 goedgekeur is.
DIE GEBOUEKOMPLEKS
Die Teologiese Skool gebruik tans ‘n derde gebou in Potchefstroom; die eerste (in Molenstraat) is in 1905 opgerig, die tweede (in Borcherdstraat, bekend as die Ou Teologiese Skool) in 1922 en die derde (tussen Van der Hoffweg en Molenstraat en regoor die tweede gebou) in 1951. Die huidige gebouekompleks vorm deel van die kerkgebou van die Gereformeerde Kerk Potchefstroom Die Bult, en het aan die oostekant die motief van die muur van die reformasie in Geneve. Die goed-toegeruste biblioteek, is gepas vernoem na prof Jan Lion-Cachet, en is by die Ferdinand Postma-biblioteek van die NWU ingeskakel. Die GKSA se kerklike argief en argiefkantore is ook in die huidige Teologiese Skool gehuisves.