Doodstraf

DOODSTRAF – amptelike standpunt
RAPPORT (Acta 1994:608-617)

1. Opdrag

Die Deputate vir Korrespondensie met die Hoë Owerheid het soos volg aan die Nasionale Sinode 1991 gerapporteer (Acta 1991:621, 3.10): “Amnestie International het verskeie briewe oor afskaffing van die doodstraf vir ondersteuning deur die kerke gestuur. Die Deputate kon geen vorige Sinodebesluite oor die saak opspoor nie en kon dus nie die briewe beantwoord nie. Om meer duidelikheid van Staatsweë te kry het die Deputate met parlementslede oor die saak gepraat. Dit is nodig dat die Sinode oor die saak ‘n beginselstandpunt sal formuleer.”1.2 Hierop het die Sinode 1991 besluit (Acta 1991:625, 4.12): “Die Sinode neem kennis van die korrespondensie en optrede van die Deputate en verwys die saak van doodstraf na Studiedeputate”.

Besluit: Kennis geneem.

2. Sake waaroor die Sinode kennis moet neem
Die volgende sake is deur die Deputate in studie geneem en word ter kennisname aan die Sinode voorgelê:
• Gegewens uit die Ou Testament
• Gegewens uit die Nuwe Testament
• Gegewens uit die Belydenisskrifte
• Enkele argumente vir en teen die doodstraf.

2.1 Gegewens uit die Ou Testament

2.1.1 Die instelling van die doodstraf (Gen 9:6)
Die mees basiese uitspraak in die Ou Testament oor doodstraf is die in Genesis 9:6 “Wie die bloed van ‘n mens vergiet, deur ‘n mens sal sy bloed vergiet word. God het die mens as sy beeld gemaak”. Dit kan beskou word as die diepste begronding van die doodstraf sover dit die Bybel aangaan.

Die rede vir die toepassing van die doodstraf is geleë in die feit dat die mens na die beeld van God geskape is. Hierdie motivering wat deur God self gegee (geopenbaar) is, word nêrens elders in die wêreld gevind nie. Die beeld van God bestaan daarin dat God die mens aangestel het om oor die skepping te heers, dit te bewerk en op te pas (Gen. 1:28, 2:15), asook daarin dat bepaalde deugde van God op ‘n beperkte wyse deur die mens weerspieël behoort te word. Die menswaardigheid van die mens is geleë in die feit dat hy die beeld van God is, en omdat hy dit van God ontvang het, mag dit nie wederregtelik deur ‘n ander mens van hom weggeneem word nie.

Deur hierdie bepaling wat voor die bestaan van Israel as volk gegee is, maak die Skrif die doodstraf geldend vir alle mense van alle tye.

Die doodstraf op moord by Israel (Eks. 21:12; Lev 24:17; Num 35:16-21), moet ook gesien word as die wetlike omskrywing van die bepaling in Genesis 9:6.

2.1.2 Die Israelitiese wetgewing
Volgens die wette wat die Here deur Moses aan Israel gegee het, was daar 21 oortredings waarvoor die doodstraf opgelê is of opgelê kon word. Dit kan in die volgende vier groepe verdeel word.

2.1.2.1 Religious misdade
In hierdie kategorie kry ‘n mens te doen met die verbod om aan ander gode te offer (Eks. 22:19) of om God te vloek (Eks. 22:17). Wie dit gedoen het, moes met die dood gestraf word. So moes Israel geleer word om God as ‘n heilige God te eer en om te besef dat Hy in sy hoogheid en heiligheid Hom nie laat bespot, minag of belaster nie (Lev 20:7-27).

2.1.2.2 Misdade waardeur mense gedood is
By hierdie soort misdade word die sogenaamde jus talionis of vergeldingsreg aangetref (Eks. 21:22-25). Dit kom hierop neer: soos jy aan ander gedoen het, so sal aan jou gedoen word (‘n oog vir ‘n oog, ‘n tand vir ‘n tand, ‘n lewe vir ‘n lewe).

Die jus talionis dui wel aan dat daar vergelding kan plaasvind, maar dit het veral ten doel gehad om die vergelding streng te beperk. As iemand ‘n moord gepleeg het, moet by vergelding nie sy hele gesin doodgemaak word nie maar net die oortreder self.

Die instelling van die sogenaamde vrystede in Israel (Num 35:9-34) het die geleentheid aan die vermeende oortreder gebied om op ‘n regverdige wyse verhoor te word sodat in die lig van die beskikbare getuienis bepaal kan word of hy werklik skuldig is en in welke mate (Num 35:22-25). As hy werklik aan moord skuldig is, moes hy sterwe (Lev 24:17; Num 35: 16-21).

2.1.2.3 Morele misdade
Die misdade wat hier ter sprake kom, is byvoorbeeld om ouers te slaan of te vloek (Eks. 21:15, l 7), koppigheid van ‘n seun wat hom boonop aan drank oorgee (Deut 21:l8-21) en sekere vorms van geslagsgemeenskap buite die huwelik (Deut 22:13-30).

Hierdie bepalings vorm deel van die heiligheids- en reinheidswette wat die Here aan Israel gegee het. Ook op hierdie wyse wou die Here hulle leer om sy heiligheid te erken en om daarom as sy volk self heilig te lewe (Lev 19:2; 20:7).

So moes Israel opgevoed word tot ‘n hoogstaande sedelike lewe tot eer van God.

2.1.2.4 Seremoniële misdade
Die seremoniële misdade is byvoorbeeld die gebruik van “vreemde vuur” by die diens van die Here soos Nadab en Abihu gedoen het (Lev l 0:1-2) of die skending van die sabbat wat met steniging gestraf moes word (Num 15:32-36). Ook op hierdie wyse moes die heiligheid van die Here by die volk ingeskerp word. Oortreding in hierdie verband beteken immers selfverheffing teenoor God.

2.1.3 Moordenaars wat nie doodstraf ontvang het nie
Dit tref ‘n mens dat daar enkele gevalle in die Ou Testament voorkom waar die moordenaars nie die doodstraf ontvang het nie.

2.1.3.1 Kain (Gen 4:1-6)
Kain het vir Abel doodgeslaan. Waarom God sy lewe gespaar het, is onbekend. Oor God se verborge wil durf ons nie spekuleer nie. Feit is dat God se geopenbaarde wil is dat ‘n moordenaar met die dood gestraf moet word (Lev. 24:17; Num 35:16-21).

2.1.3.2 Moses (Eks. 2:11 – 14)
Moses het ‘n Egiptenaar doodgeslaan en tog is hy nie daarvoor gestraf nie. Waarskynlik het hy nie bedoel om moord te pleeg nie sodat dit eerder as strafbare manslag beskou moet word. Duidelikheid is daar egter nie.

2.1.3.3 Dawid (2 Sam 11 en 12)
Dawid pleeg owerspel en moord. Vir elkeen van hierdie twee misdade kon hy met die dood gestraf word. Hy is wel gestraf, maar nie met die dood nie. Waarskynlik sou die owerspel en moord wat hy daarna as straf in sy eie huis ervaar het, ‘n swaarder straf vir hom as sy eie dood gewees het. Hy gee trouens self te kenne dat hy sou verkies het om in sy seun Absalom se plek te sterwe (2 Sam 18:33). Ook hier is dit nie duidelik waarom hy nie die doodstraf ontvang het nie.

2.1.4 Omstandighede en die doodstraf
Die Ou Testamentiese gegewens dui daarop dat sekere omstandighede verswarend was (sien pte. 2.1.2.1 – 2.1.2.4) en tot die toepassing van die doodstraf gelei het. Aan die ander kant is daar ook getuienis dat versagtende omstandighede in ag geneem moes word sodat die doodstraf nie toegepas moes word nie, al was daar lewensverlies (vgl. Eks. 21:l 3, 14, 20, 21; 22:2). Voorbedagte rade word as ‘n rede vir doodstraf gereken (vgl. Eks. 21:14).

2.1.5 2.1.5 God se doel met die doodstraf
Wanneer gepoog word om te bepaal wat God se doel met die doodstraf op al die genoemde oortredings was, moet onderskei word tussen doodstraf op moord aan die een kant en die doodstraf op religieuse, morele en seremoniële oortredings aan die ander kant.

Die doodstraf op die moord moet gesien word in verband met die uitspraak in Genesis 9:6. Daardeur het die Here getoon dat die waardigheid van die mens as beeld van God nie aangetas mag word nie. Dit is ook gegee voor Israel as volk bestaan het en is vir alle tye en volke bedoel. Daarom was dit logies dat dit ook ‘n plek in die wetgewing van Israel sou kry.

Die rede vir die doodstraf by al die ander oortredings is nie voor die hand liggend nie. Verskeie verklarings word daarvoor gegee. Dit wil egter voorkom of die Here op die wyse sy eie Goddelikheid en heiligheid by Israel wou inskerp. Op ‘n wyse wat spesifiek op Israel in hulle tyd toegespits was, wou Hy hulle leer om as sy volk Hom te vrees en heilig te lewe. Hulle moes besef dat hulle ‘n unieke volk van ‘n unieke God is.

‘n Mens kan dus se dat die oplegging van die doodstraf ‘n bepaalde onderrigtende betekenis gehad het sonder om daarmee te kenne te gee dat dit die enigste of belangrikste betekenis is.

2.1.6 Samevatting van Ou-Testamentiese gegewens
Die bepaling van Genesis 9:6 is voor die bestaan van Israel as volk gegee en daarom geld dit universeel en vir alle tye. Daarom het dit ook ‘n plek gevind in die Israelitiese wetgewing. Indien iemand van moord aangekla is, moes hy ‘n regverdige verhoor ontvang het sodat eers vasgestel kan word of hy skuldig is. Indien hy wel skuldig was, moes hy met die dood gestraf word sodat daar ‘n regverdige vergelding kon plaasvind en nie onbeheerste wraak nie. Vir die toepassing van die doodstraf moet enersyds voorbedagte rade en verswarende omstandighede en andersyds versagtende omstandighede in ag geneem word. Oor die redes vir die oplegging van die doodstraf vir die ander oortredings volgens die wette van Moses en die nie-oplegging van die doodstraf daarvoor in die Nuwe-Testamentiese tyd is daar nie volle duidelikheid nie. Dit is ook nie duidelik waarom Kain, Moses en Dawid nie met die dood gestraf is nie.

2.2 Gegewens uit die Nuwe Testament
2.2.1 2.2.1 Afskaffing van doodstraf nie vermeld nie
Nêrens in die Nuwe Testament word gesê dat die doodstraf in die gevalle soos in die Ou Testament bepaal, nie meer opgelê moet word nie. Tog is dit ‘ n feit dat dit nie meer in al die gevalle opgelê is nie. Dit beteken nie dat die oortredings waarvoor die doodstraf in die Ou-Testamentiese tyd opgelê is (oortredings van die seremoniële wet uitgesluit), in die Nuwe-Testamentiese tyd nie meer ernstige sondes is nie. Dit bly ernstige sondes in die oë van die Here, al word dit nie op dieselfde wyse gestraf nie.

2.2.2 Die owerheid se bevoegdheid om die doodstraf op te lê
Daar is veral drie Skrifgedeeltes wat getuig van die owerheid se bevoegdheid by doodstraf, naam lik Rom. 13:1-7, Joh 19:10-11 en Hand 25:10-11.

2.2.2.1 2.2.2.1 Paulus oor die owerheid (Rom. 13:1-7)
Waar Paulus in Rom. 13 oor die owerheid handel, skryf hy: “Maar as jy kwaad doen, vrees dan; want hy (die owerheid) dra die swaard nie verniet nie, want hy is ‘n dienaar van God, ‘n wreker om die een wat kwaad doen, te straf” (Rom. 13:4, 1933/53-vertaling).

Die uitspraak dat die owerheid die “swaard” dra, kon vir die mense aan wie die brief oorspronklik geskryf is net een ding beteken het, en dit is dat hy ook die reg het om met die dood te straf. Die swaard is destyds inderdaad vir die doel gebruik. Van die apostel Jakobus word uitdruklik gese dat Herodes hom met die swaard laat doodmaak het (Hand 12:2). Vir die mense van daardie tyd was die “swaard” dus sinoniem met “doodmaak”. Waar Paulus in Rom. 13:4 dan skryf dat die owerheid “die swaard dra”, verwys hy itdruklik na die owerheid se bevoegdheid om met die dood te straf.

Die uitdrukking “swaard dra” word dus as sinnebeeld gebruik, by wyse van ‘n sinekdogee die deel verteenwoord die geheel . Die swaard verwys nie net na die doodstraf nie maar na alle optredee waarmee wet en orde gehandhaaf word. Die owerheid hanteer die swaard dus ook waar ander strawwe as die doodstraf aangele word. Dit beteken egter nie dat die “swaard” bloot simbolies verstaan moet word, asof doodstraf nie daarby inbegrepe sou wees nie. As sinekdogee verwys die “swaard” in die eerste plek van die doodstraf, maar ook na ander strawwe.

Daarby stel Paulus dit duidelik dat die owerheid sy gesag van God ontvang het (vers 1 ). Ook die bevoegdheid om die swaardmag te gebruik en die doodstraf op te lê, het die owerheid van God ontvang. Ook daarin is hy dienaar van God (vers 4).

Verder word ook met nadruk gese dat die owerheid die swaard nie verniet dra nie. Op hom rus die plig om die een wat kwaad doen en straf met die swaard verdien, ook werklik met die swaard te straf. As die owerheid iemand wat straf verdien, nie werklik straf nie, kom die owerheid se verantwoordelikheid as dienaar van God in gedrang.

2.2.2.2 Jesus voor Pilatus (Joh 19:10-11)
As Pilatus aan Jesus sê: “Weet jy nie dat ek mag het om jou te kruisig nie?” betwis Jesus dit nie maar bring dit onder die aandag van Pilatus dat hy daardie mag – insluitende die mag om die doodstraf op te le – van God ontvang het, want Hy sê: “U sou geen gesag oor My gehad het as dit nie van Bo aan u gegee was nie”.
Jesus erken Pilatus se gesag om die doodstraf op te le as ‘n Godgegewe gesag.

2.2.2.3 Paulus voor Festus (Hand 25:10-11)
Paulus het aan Festus gesê: “Ek staan tereg voor die keiserlike regbank. Hier moet ek verhoor word … As ek skuldig is en iets gedoen het wat die doodstraf verdien, is ek bereid om te sterwe”.

Ook Paulus erken dat die owerheid in die persoon van Festus die reg het om die doodstraf op te le op die wat dit verdien.

2.2.2.4 2.2.2.4 Samevatting
Uit die voorafgaande is dit duidelik dat volgens die uitsprake van Jesus (Joh 19: l0-11) en Paulus (Hand 25: l 0-1 l; Rom. 13:1-7):

(1) Die owerheid die reg en bevoegdheid het om met die dood te straf
(2) Hy het hierdie reg en bevoegdheid van God self ontvang
(3) Hy hierdie reg en bevoegdheid moet gebruik as ‘n persoon se oortreding dit regverdig
(4) Hy sy Godgegewe roeping versaak indien hy die reg en bevoegdheid nie gebruik waar dit nodig is nie.

2.2.3 Die oortredings waarvoor die doodstraf opgelê is
In die Nuwe Testament word geen voorskrifte gegee vir die oplegging van die doodstraf vir spesifieke oortredings nie. Die enigste beskikbare gegewens is deskriptief van aard, maar het nie normatiewe gesag vir vandag nie (vgl. die rowers wat met Jesus gekruisig is – Matt 27:38; Mark 15:27).

In die Nuwe-Testamentiese tyd kon die Joodse Raad steeds volgens die Ou-Testamentiese wette die doodstraf by wyse van steniging toepas in geval van religieuse, sedelike en seremoniële oortredings. Op ‘n klag van lastering teen Moses en God het hulle Stefanus gestenig (Hand 7). Toe hulle Jesus wou stenig omdat Hy godslaterlike dinge sou gese het (Joh 8-59; 10:31-39), het Hy hulle egter nie toegelaat nie. Ook toe hulle die owerspelige vrou wou stenig (Joh 8:3-7), het Jesus dit verhoed.

Hoewel Jesus die bevoegdheid van die Joodse Raad om die doodstraf vir hierdie soort misdade op te lê, nie betwis nie, erken Hy dit ook nie (soos in die geval van Pilatus nie). Uit sy optrede, veral met die owerspelige vrou (Joh 8:3-7), blyk egter dat Jesus in die geval van religieuse en morele oortredings ‘n ander weg aanwys as dié van doodstraf, naamlik berou en bekering. Dit is trouens ook in lyn met die Nuwe-Testamentiese openbaring in geheel, dat die doodstraf vir religieuse, morele en seremoniële oortredings met die koms van Christus tot ‘n einde gekom het.

2.2.4 Die doel van die oplegging van doodstraf
2.2.4.1 Om God se regverdige vergelding uit te oefen
Die mens moet nie in persoonlike hoedanigheid wraak neem as hy veronreg is of sy naasbestaande(s) doodgemaak is nie. Hy moet vergewe (Matt 6:12, 14). God alleen het die reg om wraak te neem en te vergeld. Daarom sê Paulus ook: “Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God. Daar staan immers geskrywe: `Dit is my reg om te straf; Ek sal vergeld’, se die Here” (Rom. 12:19).

Dit het God egter behaag om sy wraak en vergelding deur die owerheid uit te oefen. Daarom word die owerheid ook ‘n wreker genoem (Rom. 13:4). As God se vergelding geskied deur die owerheid wat nie emosioneel by die oortreder of die slagoffer en hulle gesinne betrokke is nie, kan reg en geregtigheid op die beste wyse aan al die betrokke partye bewys word. Die oortreder kry sodoende ‘n billike verhoor en word regverdig gestraf.

2.2.4.2 Om te dien as afskrikmiddel
In Romeine 13:3, 4 word uitdruklik gese dat vrees in hierdie verband ook ‘n rol moet speel. Wie goed doen, hoef nie te vrees nie. Maar die kwaaddoener moet weet dat die owerheid van God die reg ontvang het om met die dood te straf en daarom moet hy vrees. Die vrees vir doodstraf moet hom van wandade weerhou. Doodstraf moet dus inderdaad as afskrikmiddel in ‘n sondige wereld dien.

2.2.4.3 Beskermingsmaatreël
In Romeine 13:4 word aangetoon dat God owerhede opdrag gee om oortreders in die samelewing te straf (desnoods met die dood te straf), die samelewing ten goede. Die instelling van owerhede om misdaad uit die samelewing weg te weer, is deel van God se algemene genade, waardeur Hy die mense in staat stel om ‘n rustige en stil lewe te kan lei (1 Tim 2:).

2.2.4.4 Samevatting
Die doodstraf moet gehandhaaf word sodat God deur die owerheid ‘n regverdige vergelding teenoor al die betrokkenes kan laat plaasvind, sodat die samelewing teen boosdoeners beskerm kan word, en sodat dit’n afskrikmiddel kan wees wat mense kan weerhou van misdade wat diood verdien.

2.3 Gegewens uit die Belydenisskrifte
In die Belydenisskrifte van die GKSA is daar veral twee uitsprake wat met die doodstraf verband hou:

In art. 36 van die Nederlandse Geloofsbelydenis word gesê dat die taak van die owerheid is om die losbandigheid van die mense in bedwang te hou en toe te sien dat alles onder die mense ordelik kan verloop. En dan word bygevoeg: “Vir die doel het Hy (God) die owerheid die swaard in die hand gegee om die kwaaddoeners te straf (Rom. 13:4) en die deugsames te beskerm”.

In die Heidelbergse Kategismus (40:105) word duidelik aangetoon dat die doodmaak van mense (ander of jouself deur God in die Sesde gebod verbied word. In aansluiting daarby word dan verklaar: “Daarom dra die owerheid die swaard om die doodslag te weer” (Gen 9:6; Eks. 2l :14; Matt 26:52; Rom. 13:4).
Die feit dat in beide uitsprake op grond van Romeine 13:4 gesê word dat die owerheid die swaard dra en hierdie Skrifuitspraak vertolk as verwysing na o.a. doodstraf (vgl. 3.1.3), lei tot die gevolgtrekking dat die owerheid die reg en die plig het om die doodstraf toe te pas op diegene wat hulle aan moord sonder versagtende omstandighede skuldig gemaak het.

2.4 Argumente vir en teen doodstraf
In die verskillende geskrifte wat oor die onderwerp van die doodstraf geskryf is, word daar ‘n baie groot getal argumente vir en teen doodstraf na vore gebring, en vir elkeen van die argumente word daar weer een of meer teenargumente geopper. Die argumente (vir of teen doodstraf) wat die meeste gewig dra of die grote impak op die publiek het, is die volgende:

2.4.1 Argumente vir doodstraf
2.4.1.1 Beskerming van die samelewing
Dit word algemeen aanvaar dat elke mens die reg het om homself teen ‘n aanvaller te verdedig. Hy is verplig om die lewe wat hy as gawe van God ontvang het, ook te beskerm. En as hy in die proses van selfverdediging die aanvaller doodmaak, word hy nie vir sy dood aanspreeklik gehou nie. Op dieselfde wyse behoort die samelewing homself te beskerm teen ‘n persoon met ‘n moorddadige gesindheid wat nie skroom om ander mense dood ,te maak nie. Om so ‘n persoon gevangenisstraf op te lê, is nie voldoende nie. Sodra hy uit die gevangenis vrygelaat word, kan hy weer voortgaan om moorde te pleeg, en in die verlede het dit in baie gevalle inderdaad gebeur. Hierteenoor kan gestel word dat so ‘n misdadiger dan maar letterlik lewenslank in die gevangenis moet bly, maar die samelewing loop tog altyd die risiko dat hy moontlik kan ontsnap en met sy moorde kan voortgaan of dat hy van sy medegevangenes kan vermoor. In die lig daarvan dra hierdie argument ten gunste van doodstraf baie gewig.

2.4.1.2 Daar moet regverdige vergelding wees
‘n Regverdige vergelding beteken dat die straf in die regte verhouding moet staan met die misdaad wat begaan is. As iemand gewelddadig lewe en ander mense die lewe ontneem, is dit niks anders as regverdig dat daar ook op die wyse teenoor hom opgetree moet word (vgl. Matt 7:2). Die misdadiger moet trouens ook eweredige vergelding te wagte wees. Indien dit nie gebeur nie en die publiek die gevoel kry dat die straf van die owerheid minderwaardig is in vergelyking met die misdaad wat gepleeg is, bestaan die gevaar dat mense uit frustrasie die reg in eie hande kan neem en – al is hulle optrede wederregtelik – selfs as regters en beule begin optree (vgl. 2.2.4.1).

Die opstand, anargie en verwoesting wat in April 1992 in Los Angeles, VSA, gevolg het op ‘n hofuitspraak wat volgens die publiek nie in ooreenstemming was met die misdaad wat begaan is nie, toon die erns van hierdie argument duidelik aan.

2.4.1.3 Doodstraf dien as afskrikmiddel
Hieroor is daar baie verskil. Aangesien die Skrif self hierdie argument as rede vir die doodstraf noem (vgl 2.2.4.2), moet die Christen dit baie ernstig ter harte neem.

2.4.2 2.4.2 Argumente teen doodstraf
2.4.2.1 Die lewe is heilig
Omdat die mens se lewe heilig is, moet sy lewe onder alle omstandighede beskerm word en mag ‘n ander persoon selfs nie in selfverdediging doodgemaak word nie. Daarom mag daar ook geen doodstraf wees nie. Hierdie argument bevorder ‘n vorm van passivisme wat nog meer radikaal is as die pasifisme. Hierteenoor moet gestel word: As iemand deur sy eie optrede (moord) die heiligheid van ander se lewe ontken, kan hy nie self aanspraak maak op die beskerming van sy eie lewe omdat dit heilig is nie.

2.4.2.2 Die onherroeplikheid van doodstraf
‘n Belangrike argument wat teen die doodstraf ingebring word, is dat indien ‘n persoon met die dood gestraf word en dit later blyk dat hy onskuldig is, kan daar niks meer aan die saak gedoen word nie. Ter wille van moontlike foute wat ‘n hof kan maak, behoort daar dus geen doodstraf te wees nie. Doodstraf moet slegs toegepas word waar skuld bo alle twyfel bewys is. Wanneer daar enige vorm van twyfel bestaan, moet die beskuldigde die voordeel van die twyfel kry en die doodstraf nie toegepas word nie.

2.4.2.3 Die doodstraf is barbaars
God gee alle lewe en het daarom ook die reg om ‘n lewe te neem (Job 1:21). Die mag om die swaard te hanteer word aan die owerheid opgedra (Rom. 13:1, 4). Doodstraf opsigself as eis van God is dus nie in sigself barbaars nie. Die wyse van voltrekking kan wel op ‘n barbaarse wyse uitgeoefen word.

2.4.2.4 Christus se kruisdood het doodstraf beëindig
Die siening bestaan dat Christus se dood aan die kruis ter voldoening aan die vergeldende geregtigheid van God tot gevolg het dat barmhartigheid aan alle mense bewys moet word en dat die doodstraf derhalwe heeltemal afgeskaf moet word.

Hierteenoor: Al het Christus deur sy kruisdood die straf oor die sonde van die mens gedra, mag daaruit nie afgelei word dat alle strafmaatreëls daarmee opgehef word nie. Soos hierbo aangetoon is, erken die Skrif baie duidelik die roeping en taak van die owerheid – ook na die kruis en opstanding van Christus – om in hierdie sondige bedeling die kwaad deur strafmaatreëls teen te werk.

2.4.2.5 Die verantwoordelikheid van die samelewing.
Hierdie argument wil die invloed van die samelewing as oorsaak van moorde aandui. Die bewering word gemaak dat ‘n samelewing waarin onreg, mishandeling en moord geduld word, ‘n bepaalde persoon kan motiveer om self ook moord te pleeg.

In hierdie argument mag daar ‘n element van waarheid wees en dan behoort so ‘n situasie met die oog op versagtende omstandighede oorweeg te word. Aan die ander kant kan selfs in so ‘n milieu alle moorde nie sonder meer aan die invloed van die samelewing toegeskryf word nie. Bowendien, as een verkeerd doen, mag dit tog nie vir ‘n ander die rede gee om dit ook te doen nie.

2.4.3 Samevatting
Die argumente dat doodstraf deur die owerheid noodsaaklik is vir die beskerming van die samelewing en ook noodsaaklik kan wees vir die regverdige vergelding van ‘n persoon se misdaad, dra beslis gewig, asook die feit dat dit moet dien as afskrikmiddel.

Die argumente teen doodstraf bied nie voldoende motivering virdie afskaffing daarvan nie.

Besluit: Die Sinode keur die herformulering van punt 2 goed, soos deur die Kommissie aanbeveel (wysigings reeds aangebring – Depp. Handelinge).

3. 3 Sake vir beoordeling
3.1 Die bevinding van die Deputate
3.1.1 Wat die Ou Testament betref, is die bepaling van Genesis 9:6 van groot belang:
“Wie die bloed van ‘n mens vergiet, deur ‘n mens sal sy bloed vergiet word. God het die mens as sy beeld gemaak”.
Hierdie bepaling is voor die bestaan van Israel as volk gegee en daarom geld dit universeel en vir alle tye. Daarom het dit ook ‘n plek gevind in die Israelitiese wetgewing maar geldig gebly ook na die afskaffing van die seremoniële wette. Indien iemand van moord aangekla is, moet hy ‘n regverdige verhoor ontvang het sodat eers vasgestel kan word of hy skuldig is. As hy wel skuldig is, moet hy met die dood gestraf kon word sodat daar ‘n regverdige vergelding kon plaasvind en nie onbeheerste wraak deur die geliefdes van die slagoffer nie.

3.1.2
Die gegewens uit die Nuwe Testament, en Romeine 13:1-7 in die besonder, toon dat die owerheid van God die reg ontvang het om met die dood te straf en dat hy sy Godgegewe roeping versaak indien hy die reg en bevoegdheid nie gebruik waar nodig nie. Die doel met die doodstraf moet wees om God se regverdige vergelding oor die oortreder uit te oefen en om te dien as afskrikmiddel sodat mense van sulke uiterste misdade weerhou kan word.

3.1.3
In die Belydenisskrifte van die GKSA oor die taak van die owerheid word baie nou aangesluit by veral Romeine 13:4. Die implikasie daarvan is dat die owerheid die bevoegdheid het om met die dood te straf en dat hulle dit ook inderdaad moet doen waar nodig.

3.1.4
Die argumente dat die doodstraf deur die owerheid noodsaaklik is vir die beskerming van die samelewing en ook noodsaaklik kan wees vir die vergelding van ‘n persoon se misdaad, dra beslis gewig, asook die feit dat dit as afskrikmiddel moet dien.

3.1.5
Vir die oorweging van die doodstraf geld dat die daad met voorbedagte rade gepleeg is en/of dat verswarende omstandighede bevind word sonder versagtende omstandighede.

Besluit: Goedgekeur.

4. Sake waaroor die Sinode moet besluit
Die Sinode oordeel, in die lig van Skrif en Belydenis

4.1
Slegs die owerheid het die reg en bevoegdheid om die doodstraf toe te pas.
Besluit: Goedgekeur.

4.2
Die owerheid is voor God verplig om die doodstraf toe te pas in die geval van moord met voorbedagte rade en/of met verswarende omstandighede sonder versagtende omstandighede.
Besluit: Goedgekeur.

4.3
Die owerheid moet hierdie maatreël toepas sodat daar ‘n ordelike samelewing kan wees, om die oortreder regverdig te straf en om ander daarvan af te skrik om wandade te pleeg waar mense om die lewe gebring (kan) word.

Besluit: Goedgekeur.

In 2003 het die sinode kennis geneem van ʼn dokument van Deputate Owerheid in 2003 oor die herinstelling van die Doodstraf (Acta 2003:230-234)

In Junie 1995 het die Konstitusionele Hof bevind dat die doodstraf in stryd is met die grondwet en dit is afgeskaf.

A. Bepalings van die grondwet
1. Die mening van die meerderheid Suid-Afrikaners

‘n “Informele referendum” is in Suid-Afrika gehou met motorplakkers om steun te wys vir die herinstelling van die doodstraf.

In April 1995 het ‘n meningsopname aan die lig gebring dat 80% van die blankes en 49% van die swartes wat deelgeneem het, die behoud van die doodstraf steun.

Die Konstitusionele Hof was ook daarvan bewus, maar het gemeen die openbare mening kan nie die plig van die hof om die grondwet te interpreteer, vervang nie.

2. Argumente ter steun vir die afskaffing van die doodstraf

2.1 Die doodstraf druis in teen die volgende vier grondwetlike bepalings:
I. ‘n verbod op wrede en onmenslike straf;
II. die beginsel van menswaardigheid en menswaardige optrede ;
III. die beginsel van gelyke behandeling voor die reg;
IV. die reg op lewe.

2.2 In die nuwe orde is parlementêre besluite onderhewig aan die Grondwet. Gevolglik sal selfs ‘n parlementêre meerderheidsbesluit om die doodstraf terug te bring deur die hof in terme van 2.1 se bepalings ongrondwetlik bevind kan word.

2.3 Veronderstel egter ‘n parlementêre meerderheid sou besluit om die Grondwet te wysig, om die herinstelling van die doodstraf moontlik te maak:

Eerstens sal die prosedurele vereistes vir die wysiging van die Grondwet nagekom moet word.

Voorts sal die wysiging uitsonderings op al vier gronde moet skep.

Die parlement sal ook die strafproseswet moet wysig om ‘n nuwe doodsvonnisbedeling in te stel. *

Die Konstitusionele Hof kan nog steeds vereis dat vir ‘n vonnis wat so drasties en onherroeplik is, hoër standaarde van “billike verhoor” moet geld. Hierdie standaarde kan die doodsvonnis heeltemal onprakties maak.

‘n Kortpad is om die Handves van Regte te wysig: sê eenvoudig dat geen bepaling in die Grondwet die oplegging en uitvoer van die doodsvonnis ongrondwetlik maak nie. Die Handves van Regte is egter gegrond op internasionaal aanvaarde beginsels en sal op grond daarvan, moeilik verander word – enige handves word uiteraard nie eintlik gewysig nie.

2.4 Dit is egter wesenlik belangrik dat die grondwetlike orde in Suid-Afrika gehandhaaf word, onder meer die vier genoemde grondbeginsels in die Grondwet. Regter Chaskalson het dieselfde punt in sy Konstitusionele Hof-uitspraak gemaak: “The very reason for establishing the new legal order and for vesting the power of judicial review of all legislation in the courts, was to protect the rights of minorities and others who cannot protect their rights adequately through the democratic process.”

* Onthou dat individuele wette ook aangepas sal moet word om die straf vir ‘n spesifieke oortreding te wysig na bv. doodstraf.

3. Menseregte van misdadigers
Die beskerming van menseregte in ‘n land se grondwet, beteken uiteraard dat alle landsburgers beskerm word – nie net die “goeies” nie.

3.1 Met die beskerming van menseregte het regter Chaskalson gesê dat ook sosiale uitvaagsels en mense wat na die randgebied van die gemeenskap uitgedryf is, beskerm moet word: “It was only when there was a willingness to protect the worst and weakest of our society that we could all be secure that our rights would be protected.” Die Konstitusionele Hof het dus ingevolge hierdie uitspraak ‘n plig om die menseregte van die misdadigers (“the worst”) en van hulle slagoffers (“the weakest”) te beskerm.

3.2 Die vraag is, in hoe ‘n mate word die slagoffers beskerm?
B. Enkele perspektiewe op die herinstelling van die doodstraf
1. Die doodstraf as oplossong vir misdaad

1.1 Die onmiddellike herinstelling van die doodstraf word dikwels gesien as die oplossing vir ons land se misdaadvraagstuk. Vanuit ‘n regsoogpunt beskou, blyk dit egter hoegenaamd nie ‘n uitgemaakte saak te wees dat die herinstelling van die doodstraf onder die huidige omstandighede, enigsins ‘n verskil sal maak aan die toenemende vlaag van misdaad nie.

1.2. Die doodstraf is in vroeëre jare so min voltrek dat vonnisopleggers oor die jare weinig of geen sinvolle gevolgtrekking ten opsigte van die retributiewe effek daarvan kon maak nie. Sedert die bewindsaanvaarding van die Nasionale Party in 1948 was daar maar slegs sowat 2000 doodsvonnisse opgelê, waarvan ongeveer 75% voltrek was. Sedert 1989 was daar in elk geval, vanweë ‘n moratorium, hoegenaamd geen sodanige vonnis voltrek nie.

2. Straf: ‘n Oplossing vir misdaad in Suid-Afrika?

2.1 Die gemeenskap van wetsgehoorsame Suid-Afrikaners is onder groot druk omdat hulle uitgelewer is aan ‘n misdaadgolf wat alles en almal oorspoel – ondoeltreffende polisiëring, gebrekkige regspraktyke en ondoeltreffende vonnisse is deel daarvan.

2.2 As al die regsprosesse: polisiëring, vonnisoplegging en straf, nie afsonderlik en in samehang doeltreffend is nie, sal Suid-Afrika se misdaadprobleem nie opgelos kan word nie. Sonder ‘n ingrypende hervorming van ons regsorde is die herinstelling van die doodstraf irrelevant tot die oplossing van die misdaadprobleem in Suid-Afrika.

2.3 Werklose en daklose rondswerwers word nie afgeskrik deur gevangenisstraf of selfs die doodstraf nie – elke dag is immers ‘n stryd om oorlewing en kos en onderdak (in die tronk) is ‘n welkome verligting.

2.4 Moet armoede die skuld kry vir misdaad in Suid-Afrika? “Sonder uitsondering word daar daagliks in ons howe deur vonnisopleggers aangehoor dat geweldsmisdadigers, huisbrekers, rowers, bedrieërs, ens. werkloos is en dat hulle dade grootliks deur hongerte gemotiveer was. Die skerp toename van veediefstal elke jaar voor Kersfees is ‘n klinkende voorbeeld van die feit dat daar vir die pot gesteel word.” Só sê ‘n landdros wat met die praktyk te doen het.

2.5 ‘n Veranderende maatskaplike beleid in Suid-Afrika wys daarop, dat om ‘n persoon uit die samelewing te verwyder en deel van ‘n “sisteem van misdadigers” te maak (tronkstraf), nie suksesvol was nie. Gevangenes ontsnap wel uit tronke, maar oor die algemeen nie uit die siklus van oortreding en inperking, of oplossing van ’n probleem deur geweld nie.

2.6 Uit ’n studie van motorkapers blyk die volgende:

Motorkapings word suiwer as gevolg van die lonendheid daarvan uitgevoer. Die gemiddelde inkomste vir ‘n gekaapte motor is tussen R10 000 en R20 000. Mnr X wat alleen gewerk het en 55 jaar tronkstraf uitdien, het in sy beste maand R800 000 verdien! (Terloops, hy het ‘n BCom graad.)
‘n Gewelddadige misdaad soos motorkaping ontwikkel uit ‘n klimaat van geweld. Die gebruik van geweld is nie vir kapers onaanvaarbaar nie. Is daar nie te veel geweld op TV, flieks, in gesinne ens. nie?
Motorkapers meen die kans om gevang en gestraf te word in Suid-Afrika is minimaal. (Doodstraf maak geen verskil aan hulle argument nie.) As hulle gevang word is hulle gou uit op borgtog. Die oneffektiwiteit van die strafregpleging word al hoe meer genoem as bydraende faktor tot groeiende misdaad.

3. Probleme met polisiëring, vonnisoplegging en straf.

Die volgende probleme verdien dringende aandag:

3.1 Ongeveer 1 uit elke 100 misdadigers word uiteindelik voor die hof gebring. In ‘n sekere landdroshof is daar vir die tydperk 1 Oktober 1999 tot 31 Desember 1999 ‘n totaal van 926 lasbriewe tot die arrestasie van persone wat dagvaardigings verontagsaam het, gemagtig. Slegs 32 daarvan is uitgevoer.

3.2 Sake wat teruggetrek word vanweë karige ondersoeke deur ondersoekbeamptes, is legio.

3.3 Minderjarige misdadigers moet deur die reg beskerm word, maar ‘n sestienjarige wat aktief deelneem aan huisbraak, gewapende roof, moord of verkragting, is sekerlik toerekeningsvatbaar. Elke geval behoort op eie meriete beoordeel te word.

3.4 Sake sloer om afgehandel te word. Hofrolle is tot so ‘n mate oorlaai dat daar sake is wat 4 jaar of meer neem om gefinaliseer te word. Intussen het belangrike getuies verdwyn, of hulle is reeds oorlede.

3.5 Die paroolstelsel.

3.6 Die toelating van leke assessors in howe.

3.7 Oneerlike regsverteenwoordigers.

3.8 Die (on)kundigheid van landdroste en aanklaers.

3.9 Gebrek aan werksure in die howe.

3.10 Onvermoë van die Staat om voldoende bewyse teen ‘n beskuldigde in te bring vir maksimum vonnisoplegging.

3.11 Bekentenisse aan ‘n landdros/traumaberader kan tans nie sonder meer as getuienis teen ‘n beskuldigde gebruik word nie.

4. Misdaadvoorkoming en slagofferbemagtiging.
Die klem het die afgelope jare verskuif na misdaadvoorkoming en slagofferbemagtiging. Onder andere is die Nasionale Misdaadvoorkomingstrategie gepubliseer. Wette is gewysig om wapens te beperk en geweld tydens inhegtenisnames te verhinder.

Tans sien ons egter geen effek van bogenoemde maatreëls om geweld en misdaad te verminder nie. Ons word in teendeel daagliks gekonfronteer met oneffektiwiteit en korrupsie in die praktyk.

Wat is die werklike oorsake van misdaad? Die regering spandeer miljoene rande aan die opheffing van armoede – is dit hoegenaamd haalbaar? Wat is die invloed van dwelms en alkohol, sedelike verval en disintegrerende gesinstrukture op misdaad? Waar begin ‘n mens misdaad voorkom – by Christelike waardes? Hoe effektief is slagofferbemagtiging en in hoe ‘n mate sal dit misdaad in Suid-Afrika laat afneem? Dit is voorbeelde van die talle onbeantwoorde vrae.