Potchefstroom
Die Algemene Sinode
Afgevaardigdes uit al die streeksinodes kom hier saam om oor belydenis, kerkorde en liturgie te besin.

Die sinode van 1924, bymekaar onder die seringboom te Rustenburg waar die kerk in 1859 gestig is, met prof. H.H. Kuyper. Foto: Argief van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (publieke domein in Suid-Afrika).
Die Sinode is nie 'n hoofkantoor nie. Dit bestaan net terwyl dit vergader: verdaag die vergadering, is daar niks totdat die kerke mekaar volgende keer roep.
Ons noem dit 'n meerdere vergadering omdat meer mense teenwoordig is, nie omdat dit meer gesag dra as die kerkraad nie. Die gesag lê by Christus en sy Woord. Hier dien die kerke mekaar met raad, behartig hulle saam werk soos die Teologiese Skool en die sending, en waak hulle oor die leer.

Die Algemene Sinode 2026, in Januarie in Potchefstroom.
Uit die Acta self
Die eerste sinode ná die dood van prof. Dirk Postma het in 1891 op Rustenburg vergader. Die voorsitter het daarop gewys dat dit die plek is waar Postma hom aan die werk van die kerk verbind het.
Bron: Acta 1891, art. 1
In 1904 het die Sinode op Middelburg (Kaap) vergader, want Pretoria kon dit in die swaar tye ná die oorlog nie ontvang nie. Dit was die eerste sinode sedert 1897.
Bron: Acta 1904, art. 9
Die Acta van 1918 is die eerste wat in Afrikaans verskyn het. Die voorwoord sê: “Dis die eerste maal dat dit gebeur in die Afrikaanse taal.”
Bron: Acta 1918, voorwoord
In 1958 het 183 kerke altesaam 304 deputate na die Sinode gestuur. Vanaf 1961 het die partikuliere sinodes die afgevaardigdes gestuur, en 144 van 'n moontlike 160 was teenwoordig.
Acta en besluite
Amptelike notules en besluite: 56 sinodes, 1862 tot 2026.
Soek deur 164 jaar se besluite
Vra in gewone Afrikaans waarna jy soek. Reformeer deursoek elke Acta en wys jou die presiese artikel, met die sinode en jaar daarby.
2000 –
Potchefstroom
2023: Vyfde Algemene Sinode. Die NWU-ooreenkoms word nie onderteken nie, en die kerke aanvaar die Gereformeerde Teologiese Akademie.
Potchefstroom
2018: Vierde Algemene Sinode. Die toekoms van teologiese opleiding saam met die NWU, die vrou in die amp, en liedboeke in Afrikatale.
Potchefstroom
2016: Buitengewone Algemene Sinode. Die beswaarskrifte oor die vrou in die amp en oor die 'Spesiale Sinodes' van 2015.
Potchefstroom
2015: Derde Algemene Sinode. Eenheid in verskeidenheid, 'Spesiale Sinodes' vir wesenlike sake, en die kerklied.
Potchefstroom
2012: Tweede Algemene Sinode. Die wysiging van Kerkorde artikel 69 oor die kerksang.
Potchefstroom
2009: Eerste Algemene Sinode. Al die kerke vergader in een sinode, en besluite oor die vrou in die amp.
Potchefstroom
2006: Nege-en-veertigste Nasionale Sinode. Die nuwe ooreenkoms met die NWU, en 'n beswaarskrif teen die 2003-besluit oor vroue as diakens slaag.
Potchefstroom
2003: Agt-en-veertigste Nasionale Sinode. Vroue as diakens, en die gemeenskaplike beker by die Nagmaal.
Potchefstroom
2000: Sewe-en-veertigste Nasionale Sinode. 'n Raamwerk vir die viering van die Nagmaal, die vrou in die amp, en emeritaatsversorging.
1950 – 1999
Potchefstroom
1997: Ses-en-veertigste Nasionale Sinode. Evangelisering, die dalende lidmatetal, die nagmaal en die vrou in die amp.
Potchefstroom
1994: Vyf-en-veertigste Nasionale Sinode. Appèlle en besware oor die vrou in die besondere ampte, die nagmaal en die Psalmberyming.
Potchefstroom
1991: Vier-en-veertigste Nasionale Sinode. Die Gereformeerde Ekumeniese Raad, die bande met die CRC en die versorging van emeriti.
Potchefstroom
1988: Drie-en-veertigste Nasionale Sinode. Volkereverhoudinge, die Gereformeerde Ekumeniese Sinode en die vrou in die besondere ampte.
Potchefstroom
1985: Twee-en-veertigste Nasionale Sinode. Die naam van die kerk, volkereverhoudinge en die plek van die vrou in die kerk.
Potchefstroom
1982: Een-en-veertigste Sinode. Die belydenisskrifte, volkereverhoudinge en Christelike onderwys.
Potchefstroom
1979: Veertigste Sinode. Bybelvertaling, die geestesdoop en die versorging van emeriti.
Potchefstroom
1976: Nege-en-dertigste Sinode. Volkereverhoudinge, die formuliere en samespreking met die drie Afrikaanse kerke.
Potchefstroom
1973: Agt-en-dertigste Sinode. Sending, die gesprek met die NG en Hervormde Kerke, en die bande met Nederland.
Potchefstroom-Noord
1970: Sewe-en-dertigste Nasionale Sinode. Sending, dae van verootmoediging en Artikel 36 van die NGB.
Potchefstroom
1967: Ses-en-dertigste Sinodale Vergadering. Begrafnisse, Kerkorde artikel 70 en die beplanning van die Teologiese Skool se eeufees in 1969.
Potchefstroom
1964: Vyf-en-dertigste Sinodale Vergadering. Hersiening van die Kerkorde en die vertaling van die belydenisskrifte.
Potchefstroom
1961: Vier-en-dertigste Sinodale Vergadering. Die eerste Sinode ná die eeufees, met afgevaardigdes uit die partikuliere sinodes.
Potchefstroom
1958: Drie-en-dertigste Sinodale Vergadering. Die eeufees van 1959, en 'n kleiner Sinode met afgevaardigdes uit die partikuliere sinodes.
Potchefstroom
1955: Twee-en-dertigste Sinodale Vergadering. Die naam van die Kerk, kleurverhoudinge en die formuliere in Afrikaans.
Potchefstroom
1952: Een-en-dertigste Sinodale Vergadering. Die nuwe geboue van die Teologiese Skool, die Gereformeerde Ekumeniese Sinode en 'n kleiner Sinode.
1900 – 1949
Potchefstroom
1949: Dertigste Sinodale Vergadering. Die ondertekende ooreenkoms met die PUK en die afskeid van Totius.
Potchefstroom
1946: Nege-en-twintigste Sinodale Vergadering. Die eerste buitengewone Generale Sinode in Suid-Afrika, oor leervraagstukke en die Teologiese Skool.
Potchefstroom
1945: Agt-en-twintigste Sinodale Vergadering. Die 75-jarige bestaan van die Teologiese Skool, en 'n ooreenkoms met die PUK.
Aliwal-Noord
1942: Sewe-en-twintigste Sinodale Vergadering. Sinode in oorlogstyd, en die kerk en die skool (Art. 21 K.O.).
Bloemfontein
1939: Ses-en-twintigste Sinodale Vergadering. Vrymesselary, maatskaplike euwels en 'n protes teen die Christenvervolging in Rusland.
Bethulie
1936: Vyf-en-twintigste Sinodale Vergadering. Goedkeuring van die Afrikaanse Bybel.
Pretoria
1933: Vier-en-twintigste Sinodale Vergadering. Historiese sinode in depressietyd.
Burgersdorp
1930: Drie-en-twintigste Sinodale Vergadering. Groei, die Bybelvertaling en die plan vir 'n Administratiewe Buro.
Reddersburg
1927: Twee-en-twintigste Sinodale Vergadering. Sending en Bybelvertaling.
Rustenburg
1924: Een-en-twintigste Sinodale Vergadering. Rustenburg en die ou seringboom, prof. H.H. Kuyper, en die beginsel van klassisse.
Colesberg
1920: Twintigste Algemene Sinodale Vergadering. Die inlywing van die Potchefstroomse Universiteitskollege by die Universiteit van Suid-Afrika.
Reddersburg
1918: Negentiende Algemene Sinodale Vergadering. Eerste Handelinge in Afrikaans.
Potchefstroom
1916: Agttiende Algemene Sinodale Vergadering. Groei tot 68 gemeentes, die rebellie van 1914, en Afrikaans in die kerkraad.
Steynsburg
1913: Sewentiende Algemene Sinodale Vergadering. Kerkorde, 'n sendingorde en toenadering tot die Ned. Herv. of Geref. Kerk.
Reddersburg
1910: Sestiende Algemene Sinodale Vergadering. Minder sinodale bepalings, 'n nuwe uitgawe van die Kerkorde, en die afskeid van prof. Cachet.
Pretoria
1907: Vyftiende Algemene Sinodale Vergadering. Herstel ná die oorlog, die Skool in Potchefstroom, en die planne vir die vyftigjarige fees.
Middelburg (Kaap)
1904: Veertiende Algemene Sinodale Vergadering. Die eerste sinode ná die oorlog, en die besluit om die Teologiese Skool na Potchefstroom te verplaas.
1862 – 1899
Burgersdorp
1897: Dertiende Algemene Sinodale Kerkvergadering. Die sending, die gemeente Humpata en 'n brief van President Kruger.
Reddersburg
1894: Twaalfde Algemene Sinodale Kerkvergadering. Ds. J. Lion Cachet word professor in die teologie, en die kerk aanvaar sy roeping tot die sending.
Rustenburg
1891: Elfde Algemene Sinodale Kerkvergadering. Die eerste sinode ná die dood van prof. D. Postma, en 'n nuwe professor in die teologie beroep.
Middelburg (Kaap)
1888: Tiende Algemene Sinodale Kerkvergadering. Kerkvereniging, die gebou van die Teologiese Skool en die gemeente Humpata.
Ventersburg
1885: Negende Algemene Sinodale Kerkvergadering. Die onderhoud van die Teologiese Skool en kerkvereniging.
Pretoria
1882: Agtste Algemene Sinodale Kerkvergadering. Kerkvereniging, die Trekkende Gemeente en Christelike onderwys.
Burgersdorp
1879: Sewende Algemene Sinodale Kerkvergadering. Ds. D. Postma word professor in die teologie, ná 'n skeuring deur S.D. Venter.
Reddersburg
1876: Sesde Algemene Sinodale Kerkvergadering. Twee professore vir die Teologiese Skool, en die reël vir die kerksang.
Burgersdorp
1873: Vyfde Algemene Sinodale Kerkvergadering. Die opvoeding van die jeug, die Teologiese Skool en die uitbreiding van Gods koninkryk.
Potchefstroom
1869: Vierde Algemene Sinodale Kerkvergadering. Die Teologiese Skool te Burgersdorp opgerig, met ds. D. Postma en ds. J. Lion Cachet as leraars.
Reddersburg
1866: Derde Algemene Sinodale Vergadering. Die eerste twee leraars wat in Suid-Afrika opgelei is, word toegelaat.
Rustenburg
1863: Tweede Algemene Sinodale Vergadering. Die Openlike Verklaring hernu, en ds. Postma se pleidooi vir die kerk se eie opleiding.
Reddersburg
1862: Eerste Algemene Sinodale Vergadering. Die Dordtse Kerkorde aanvaar en die Openlike Verklaring afgelê.
Kry jy nie wat jy soek nie?
Die Administratiewe Buro hou die volledige argief by. Wymie du Plessis antwoord vrae oor die inligting in die Acta: wymiedup@gksa.co.za
