DIE KURATORIUM
Die Kuratorium is ‘n vergadering van predikante wat ‘n besondere kerkregeringstaak verrig met die oog op die voorsiening van, die sorg vir en die toesig oor die diens van predikantsopleiding. Die Kuratorium behartig dus die belange van die Teologiese Skool deur onder andere toewysing van professore aan leerstoele, versorging van professore en emeriti, insette en kwaliteitskontrole van studiegidse en leerplanne, toelating van studente tot kandidaatstudie en terminering daarvan, eksaminering van studente se preke, toekenning van die Kandidaatsertifikaat en die toekenning van beurse aan studente uit die Kas vir Teologiese Studente.
Elke streeksinode verkies die jaar wat die Algemene Sinode voorafgaan, drie kuratore (vier deur Streeksinode Noordwes) en sekundi vir ‘n dienstyd van 3 jaar. Die sekundi en die Kuratorium vorm saam die Breë Kuratorium. Die Breë Kuratorium het die taak om professore te verkies en te beroep na die Teologiese Skool en oor hulle tug uit te oefen. Tans is dr Douw Breed die voorsitter van die Kuratorium.
DIE REKTORAAT
Tans is prof Henk Stoker die Rektor van die TSP, prof Francois Viljoen die Vise-rektor Akademiese Sake en prof Francois Muller Vise-rektor Studentesake.
DIE SENAAT
Die Senaat bestaan uit al die teologiese professore van die Teologiese Skool wat deur die Kuratorium hierheen beroep is, die Registrateur van die TSP, die Rektor van die Noordwes-Universiteit (Potchefstroom Kampus) of sy/haar sekundus as verteenwoordiger van die NWU, ‘n kurator (gewoonlik die voorsitter), en een van die predikante van die Gereformeerde Kerke op Potchefstroom wat deur die Kuratorium vir ‘n tydperk van drie jaar benoem word.
Die Senaat moet die besluite van die Kuratorium uitvoer en aan die Kuratorium verslag doen oor die werksaamhede van die professore, toesig oor die leer en lewe van die professore, opleiding en eksaminering van studente, en skorsing van studente hou.
Ons professore is almal ook aan die NWU verbonde en het hulle die afgelope paar dekades onderskei as van die beste en produktiefste navorsers aan die NWU. Op nasionale en internasionale gebied is hulle aktief betrokke by teologiese verenigings en werksgemeenskappe. Daardeur het die TSP bekendheid verwerf vir sy uitgesproke reformatoriese tradisie en benadering.