Slaan oor na die inhoud

Die Algemene Sinode

Afgevaardigdes uit al die streeksinodes kom hier saam om oor belydenis, kerkorde en liturgie te besin.

Die afgevaardigdes van die sinode van 1924, sittend en staande onder 'n groot seringboom

Die sinode van 1924, bymekaar onder die seringboom te Rustenburg waar die kerk in 1859 gestig is, met prof. H.H. Kuyper. Foto: Argief van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (publieke domein in Suid-Afrika).

Die Sinode is nie 'n hoofkantoor nie. Dit bestaan net terwyl dit vergader: verdaag die vergadering, is daar niks totdat die kerke mekaar volgende keer roep.

Ons noem dit 'n meerdere vergadering omdat meer mense teenwoordig is, nie omdat dit meer gesag dra as die kerkraad nie. Die gesag lê by Christus en sy Woord. Hier dien die kerke mekaar met raad, behartig hulle saam werk soos die Teologiese Skool en die sending, en waak hulle oor die leer.

Afgevaardigdes van die Algemene Sinode 2026 aan hulle banke in die vergadersaal

Die Algemene Sinode 2026, in Januarie in Potchefstroom.

Uit die Acta self

  1. Die eerste sinode ná die dood van prof. Dirk Postma het in 1891 op Rustenburg vergader. Die voorsitter het daarop gewys dat dit die plek is waar Postma hom aan die werk van die kerk verbind het.

    Bron: Acta 1891, art. 1

  2. In 1904 het die Sinode op Middelburg (Kaap) vergader, want Pretoria kon dit in die swaar tye ná die oorlog nie ontvang nie. Dit was die eerste sinode sedert 1897.

    Bron: Acta 1904, art. 9

  3. Die Acta van 1918 is die eerste wat in Afrikaans verskyn het. Die voorwoord sê: “Dis die eerste maal dat dit gebeur in die Afrikaanse taal.”

    Bron: Acta 1918, voorwoord

  4. In 1958 het 183 kerke altesaam 304 deputate na die Sinode gestuur. Vanaf 1961 het die partikuliere sinodes die afgevaardigdes gestuur, en 144 van 'n moontlike 160 was teenwoordig.

    Bron: Acta 1958, art. 12; Acta 1961, art. 2

Acta en besluite

Amptelike notules en besluite: 56 sinodes, 1862 tot 2026.

Soek deur 164 jaar se besluite

Vra in gewone Afrikaans waarna jy soek. Reformeer deursoek elke Acta en wys jou die presiese artikel, met die sinode en jaar daarby.

Soek op Reformeer (maak in 'n nuwe oortjie oop)

2000 –

  • Potchefstroom

    2026: Sesde Algemene Sinode. Die GTA as opleidingsinstansie, studie via Mukhanyo, en die binding aan die besluite oor die vrou in die amp.

  • Potchefstroom

    2023: Vyfde Algemene Sinode. Die NWU-ooreenkoms word nie onderteken nie, en die kerke aanvaar die Gereformeerde Teologiese Akademie.

  • Potchefstroom

    2018: Vierde Algemene Sinode. Die toekoms van teologiese opleiding saam met die NWU, die vrou in die amp, en liedboeke in Afrikatale.

  • Potchefstroom

    2016: Buitengewone Algemene Sinode. Die beswaarskrifte oor die vrou in die amp en oor die 'Spesiale Sinodes' van 2015.

  • Potchefstroom

    2015: Derde Algemene Sinode. Eenheid in verskeidenheid, 'Spesiale Sinodes' vir wesenlike sake, en die kerklied.

  • Potchefstroom

    2012: Tweede Algemene Sinode. Die wysiging van Kerkorde artikel 69 oor die kerksang.

  • Potchefstroom

    2009: Eerste Algemene Sinode. Al die kerke vergader in een sinode, en besluite oor die vrou in die amp.

  • Potchefstroom

    2006: Nege-en-veertigste Nasionale Sinode. Die nuwe ooreenkoms met die NWU, en 'n beswaarskrif teen die 2003-besluit oor vroue as diakens slaag.

  • Potchefstroom

    2003: Agt-en-veertigste Nasionale Sinode. Vroue as diakens, en die gemeenskaplike beker by die Nagmaal.

  • Potchefstroom

    2000: Sewe-en-veertigste Nasionale Sinode. 'n Raamwerk vir die viering van die Nagmaal, die vrou in die amp, en emeritaatsversorging.

1950 – 1999

  • Potchefstroom

    1997: Ses-en-veertigste Nasionale Sinode. Evangelisering, die dalende lidmatetal, die nagmaal en die vrou in die amp.

  • Potchefstroom

    1994: Vyf-en-veertigste Nasionale Sinode. Appèlle en besware oor die vrou in die besondere ampte, die nagmaal en die Psalmberyming.

  • Potchefstroom

    1991: Vier-en-veertigste Nasionale Sinode. Die Gereformeerde Ekumeniese Raad, die bande met die CRC en die versorging van emeriti.

  • Potchefstroom

    1988: Drie-en-veertigste Nasionale Sinode. Volkereverhoudinge, die Gereformeerde Ekumeniese Sinode en die vrou in die besondere ampte.

  • Potchefstroom

    1985: Twee-en-veertigste Nasionale Sinode. Die naam van die kerk, volkereverhoudinge en die plek van die vrou in die kerk.

  • Potchefstroom

    1982: Een-en-veertigste Sinode. Die belydenisskrifte, volkereverhoudinge en Christelike onderwys.

  • Potchefstroom

    1979: Veertigste Sinode. Bybelvertaling, die geestesdoop en die versorging van emeriti.

  • Potchefstroom

    1976: Nege-en-dertigste Sinode. Volkereverhoudinge, die formuliere en samespreking met die drie Afrikaanse kerke.

  • Potchefstroom

    1973: Agt-en-dertigste Sinode. Sending, die gesprek met die NG en Hervormde Kerke, en die bande met Nederland.

  • Potchefstroom-Noord

    1970: Sewe-en-dertigste Nasionale Sinode. Sending, dae van verootmoediging en Artikel 36 van die NGB.

  • Potchefstroom

    1967: Ses-en-dertigste Sinodale Vergadering. Begrafnisse, Kerkorde artikel 70 en die beplanning van die Teologiese Skool se eeufees in 1969.

  • Potchefstroom

    1964: Vyf-en-dertigste Sinodale Vergadering. Hersiening van die Kerkorde en die vertaling van die belydenisskrifte.

  • Potchefstroom

    1961: Vier-en-dertigste Sinodale Vergadering. Die eerste Sinode ná die eeufees, met afgevaardigdes uit die partikuliere sinodes.

  • Potchefstroom

    1958: Drie-en-dertigste Sinodale Vergadering. Die eeufees van 1959, en 'n kleiner Sinode met afgevaardigdes uit die partikuliere sinodes.

  • Potchefstroom

    1955: Twee-en-dertigste Sinodale Vergadering. Die naam van die Kerk, kleurverhoudinge en die formuliere in Afrikaans.

  • Potchefstroom

    1952: Een-en-dertigste Sinodale Vergadering. Die nuwe geboue van die Teologiese Skool, die Gereformeerde Ekumeniese Sinode en 'n kleiner Sinode.

1900 – 1949

  • Potchefstroom

    1949: Dertigste Sinodale Vergadering. Die ondertekende ooreenkoms met die PUK en die afskeid van Totius.

  • Potchefstroom

    1946: Nege-en-twintigste Sinodale Vergadering. Die eerste buitengewone Generale Sinode in Suid-Afrika, oor leervraagstukke en die Teologiese Skool.

  • Potchefstroom

    1945: Agt-en-twintigste Sinodale Vergadering. Die 75-jarige bestaan van die Teologiese Skool, en 'n ooreenkoms met die PUK.

  • Aliwal-Noord

    1942: Sewe-en-twintigste Sinodale Vergadering. Sinode in oorlogstyd, en die kerk en die skool (Art. 21 K.O.).

  • Bloemfontein

    1939: Ses-en-twintigste Sinodale Vergadering. Vrymesselary, maatskaplike euwels en 'n protes teen die Christenvervolging in Rusland.

  • Bethulie

    1936: Vyf-en-twintigste Sinodale Vergadering. Goedkeuring van die Afrikaanse Bybel.

  • Pretoria

    1933: Vier-en-twintigste Sinodale Vergadering. Historiese sinode in depressietyd.

  • Burgersdorp

    1930: Drie-en-twintigste Sinodale Vergadering. Groei, die Bybelvertaling en die plan vir 'n Administratiewe Buro.

  • Reddersburg

    1927: Twee-en-twintigste Sinodale Vergadering. Sending en Bybelvertaling.

  • Rustenburg

    1924: Een-en-twintigste Sinodale Vergadering. Rustenburg en die ou seringboom, prof. H.H. Kuyper, en die beginsel van klassisse.

  • Colesberg

    1920: Twintigste Algemene Sinodale Vergadering. Die inlywing van die Potchefstroomse Universiteitskollege by die Universiteit van Suid-Afrika.

  • Reddersburg

    1918: Negentiende Algemene Sinodale Vergadering. Eerste Handelinge in Afrikaans.

  • Potchefstroom

    1916: Agttiende Algemene Sinodale Vergadering. Groei tot 68 gemeentes, die rebellie van 1914, en Afrikaans in die kerkraad.

  • Steynsburg

    1913: Sewentiende Algemene Sinodale Vergadering. Kerkorde, 'n sendingorde en toenadering tot die Ned. Herv. of Geref. Kerk.

  • Reddersburg

    1910: Sestiende Algemene Sinodale Vergadering. Minder sinodale bepalings, 'n nuwe uitgawe van die Kerkorde, en die afskeid van prof. Cachet.

  • Pretoria

    1907: Vyftiende Algemene Sinodale Vergadering. Herstel ná die oorlog, die Skool in Potchefstroom, en die planne vir die vyftigjarige fees.

  • Middelburg (Kaap)

    1904: Veertiende Algemene Sinodale Vergadering. Die eerste sinode ná die oorlog, en die besluit om die Teologiese Skool na Potchefstroom te verplaas.

1862 – 1899

  • Burgersdorp

    1897: Dertiende Algemene Sinodale Kerkvergadering. Die sending, die gemeente Humpata en 'n brief van President Kruger.

  • Reddersburg

    1894: Twaalfde Algemene Sinodale Kerkvergadering. Ds. J. Lion Cachet word professor in die teologie, en die kerk aanvaar sy roeping tot die sending.

  • Rustenburg

    1891: Elfde Algemene Sinodale Kerkvergadering. Die eerste sinode ná die dood van prof. D. Postma, en 'n nuwe professor in die teologie beroep.

  • Middelburg (Kaap)

    1888: Tiende Algemene Sinodale Kerkvergadering. Kerkvereniging, die gebou van die Teologiese Skool en die gemeente Humpata.

  • Ventersburg

    1885: Negende Algemene Sinodale Kerkvergadering. Die onderhoud van die Teologiese Skool en kerkvereniging.

  • Pretoria

    1882: Agtste Algemene Sinodale Kerkvergadering. Kerkvereniging, die Trekkende Gemeente en Christelike onderwys.

  • Burgersdorp

    1879: Sewende Algemene Sinodale Kerkvergadering. Ds. D. Postma word professor in die teologie, ná 'n skeuring deur S.D. Venter.

  • Reddersburg

    1876: Sesde Algemene Sinodale Kerkvergadering. Twee professore vir die Teologiese Skool, en die reël vir die kerksang.

  • Burgersdorp

    1873: Vyfde Algemene Sinodale Kerkvergadering. Die opvoeding van die jeug, die Teologiese Skool en die uitbreiding van Gods koninkryk.

  • Potchefstroom

    1869: Vierde Algemene Sinodale Kerkvergadering. Die Teologiese Skool te Burgersdorp opgerig, met ds. D. Postma en ds. J. Lion Cachet as leraars.

  • Reddersburg

    1866: Derde Algemene Sinodale Vergadering. Die eerste twee leraars wat in Suid-Afrika opgelei is, word toegelaat.

  • Rustenburg

    1863: Tweede Algemene Sinodale Vergadering. Die Openlike Verklaring hernu, en ds. Postma se pleidooi vir die kerk se eie opleiding.

  • Reddersburg

    1862: Eerste Algemene Sinodale Vergadering. Die Dordtse Kerkorde aanvaar en die Openlike Verklaring afgelê.

Kry jy nie wat jy soek nie?

Die Administratiewe Buro hou die volledige argief by. Wymie du Plessis antwoord vrae oor die inligting in die Acta: wymiedup@gksa.co.za

Vind jou kerk

296 kerke. Een belydenis. Daar is 'n Gereformeerde Kerk naby jou wat gereed is om jou te verwelkom.